| peste en elendes by die
aalwyne Peste en siektes kom voor by aalwyne net soos by enige ander plante. As die behandeling vroeg gedoen word is die werk asook die skade min. Ons het begin met seep en ander "vriendelike" rate, maar in 'n groot tuin met baie aalwyne waarvan die meeste vir ons waardevol is, het ons besluit om nie meer mooi te praat met die peste nie. Ons gebruik sisteemgif net op aalwynkanker en beperk die poeiergif tot die aalwyne wat nie in blom is nie, of dan net heel onder die plant om so min moontlik skade aan bye te doen. Die grootste pes is miere saam met hulle maats die plantluise. Hulle kan 'n groot kokerboom laat vrek voordat enige teken gesien word. Die miere dra die luise tussen die blaar en die stam in, waar die stam beskadig word en dit vrot. Hulle rangskik ook die luise baie netjies waar die boonste en onderste blare van 'n aalwyn oorvleuel. Onsigbaar van bo en van onder. Dan die gemeenste truuk van alles is wanneer hulle by kleiner aalwyne die grond ophoop langs die stam om die luise weg te steek. Hulle is slim ! maar ons is slimmer, hopenlik. Hou fyn dop na re�n of as die aalwyne natgemaak word. As daar een mier loop, stel ondersoek in. Hou die grond langs die stamme skoon en plat, sodat enige hopies gesien kan word. Die stuifpoeier op die mark wat kloorpirifos bevat is baie goed. Skud 'n klompie poeier in die kroon van al die aalwyne so een keer per maand. Dit hou miere weg en ook die snuitkewers wat eiers in die kroon l�. Die snuitkewerlarwes vreet deur die kroon tot in die stam en die kanse is baie groot dat die aalwyn sal vrot. Wanneer dit gebeur maak die kroon skoon en behandel met 'n antifungus middel. Laat dit droog word en verseel die wond met die verseler vir bome. Die aalwyn sal heel waarskynlik meer as een nuwe kroon op die wond vorm. Rudi het 'n handige poeierstuifbottel gemaak. Die bottel is 'n houer van 'n algemene toiletskoonmaker en die buisie kom uit 'n insekgif blikkie. Stoot die buisie 'n entjie in die bottel in, dit pas presies. Maak 'n gat vir die buisie deur die deksel. Gooi 'n klippie saam met die gifpoeier in die houer dit help met die skud. Gee 'n skud en druk die houer terwyl die houer omgetip word met die buisie na onder. 'n Wolk gif spuit tot in die skrefies onder die blare in. Dit is makliker om te doen as om te verduidelik.
Stuifpoeier in die kroon van die aalwyn werk ook baie goed op 'n groter soort plantluis wat seld gesien word omdat dit vinnig beweeg en onder die plant tussen los blare wegkruip om hoofsaaklik in die nag aan die sagte nuwe groei te suig. Die grootste skade is die wonde wat dan aangeval word deur swamme en lelike vlekke veroorsaak. Fyn spikkels sal sigbaar wees op die nuwe groei. Dit is net nodig om poeiergif te gooi nadat dit gere�n het of so een maal 'n maand wanneer dit nie re�n nie. Skud die bottel en tip dit onderstebo terwyl dit gedruk word. Dit maak 'n groot poeierwolk wat baie handig is op enige plantluise. Ook die wit dopluis. Water loop van die luise af, maar die poeier klou. Foto hieronder. Hierdie luise is reeds bespuit en hulle is besig om te vrek. Die doppe kan met 'n sagte borsel verwyder word.
Die lelikste pes is aalwynkanker wat veroorsaak word deur 'n miet. Sny die vergroeide gedeelte sover moontlik uit en verf die wond met 'n sistemiese insekgif. Gebruik 'n klein waterverf kwassie en maak die gif sterk aan. Moenie hierdie sterk mengsel oorals op die aalwyn laat drup nie want die aalwyn sal vrek op daardie kolle. Die gedeelte waar die miet is kan gerus vrek en die gif wat daar opgeneem word sal die miet in die res van die plant laat vrek. Hier is 'n sisteemgif ongelukkig nodig. Dit is nou sover dit die peste aangaan. 'n Bietjie poeier en die verfwerk teen miet. Bly op die uitkyk vir miere en alles is onder beheer. Dit was die algemene peste. Hierdie blog raak lank die elendes is vir die volgende blog. |
| Van alle smagting is die verwesenliking minder heerlik as die verwagting. - Langenhoven |
11/07